Getroue Getuies

Getroue Getuies is 'n opleidingskursus vir gelowiges wat met groter vaardigheid en selfvertroue ambassadeurs vir Jesus Christus wil wees.Deur vir hierdie kusrus in te skryf, onderneem jy om weekliks klasse by te woon en om, onder toesig en begeleiding, besoeke aan ander te bring. Jy is hartlik welkom. Jou medewerking word benodig en is belangrik! Hierdie kursus se bedoeling is om die verstand en ook die hart te raak en uit te daag. Mag dit vir jou nie net 'n leerervaring wees nie, maar ook 'n tyd van persoonlike vernuwing, oorgawe en verbintenis tot jou roeping. So dat die kerk van Jesus Christus mag groei in geloof en getalle, in getrouheid aan sy bestaansdoel (missie) en in sy bediening aan die wêreld.
Die doel van hierdie kursus is om 'n bepaalde benadering tot evangelisasie te bevorder en aan te leer. Hierdie benadering wil ons gereformeerde erfnis en teologie weerspieël en daaraan getrou wees. Die doel is voorts om kursusgangers op te lei om met integriteit en oortuiging aan die gemeente se evangelisasiebediening deel te neem. Die roeping wat Jesus Christus vir ons gee, vra dat ons almal getroue getuies sal wees. Die oproep om getrou te wees, is ook ons uitdaging om effektief te wees. Die uitdaging om effektief te wees, is ons rede om ingelig te wees, nie net oor wat evangelisasie is nie, maar ook hoe om die werk van 'n getroue getuie te doen.
Die kursus is 'n 24 uur klaskamer ervaring, opgedeel in 12 weeklikse sessies van 2 ure elk. Die verspeiding oor 12 weke gee nie alleen aan die kursusganger genoeg tyd tussen die sessies vir studie en nadenke nie, maar bevorder ook die opvoedkundige waarde van die opleiding. Die tuiswerkopdragte verskaf ook 'n gestruktureerde raamwerk vir voorgesette studie en nadenke.
Bywoning van klasse, meelewende deelname en getroue voltooiing van die werksopdragte is belangrik indien jy die maksimum voordeel uit hierdie avontuur van geloog-deling wil put.